“Is iemand dood? En wie was sy?” –
’n Vreemd’ling vra en stap verby.
Die bure sug: “So ’n goeie vrou!
Haar skoonfamilie gaan ook rou.”
Die dokter frons: “Dit was nogal
’n Allermoeilikste geval.”
Die predikant, manel en das,
Gebaar: “Ja, alle vlees is gras.”
Twee kleintjies, met dik snye brood,
Roep: “Omie, onse ma is dood.”
’n Man staar eenkant op die grond
Met twee diep lyne om sy mond.

